Friday, 19 February 2016

Dr Jan Van Elfen

Gesinsafdeling: Oorlog met lewende kieme

Dr. Jan van Elfen

Biologiese oorlogvoering is niks nuuts nie. Die Tartane het sewe eeue gelede al daarvan gebruik gemaak. Dit verskil van chemiese oorlogvoering waarin giwwe soos chloor, fosgeen, mosterdgas, senugasse en hallusinogene (beswymingsmiddels) 'n groot lewenstol kan eis.

Bioterreur berus op verspreiding van lewende kieme -- of hul spore -- met die doel om noodlottige uitbrekings by teikenpersone of bevolkingsgroepe te begin. Die waarskynlikste is virulente stamme van antraks- en builepesbasille asook die verwekkers van botulisme (senuverlamming) en tularemie (velsere, uitputting, koorsigheid en ylhoofdigheid). Bioterreur is egter selfbeperkend, omdat besmette streke ook vir die vyandiges onveilig word. Word Israel bv. die skyf van Irak sal die Palestyne en aangrensende Arabiese lande dit nie ontkom nie. (Gruinard-eiland, noordwes van Skotland, was ná militêre proewe met antraks vir jare lank onbewoonbaar).

Enkele antraksgevalle het weens hul aak-ligheid 'n onuitwisbare indruk by my gelaat. Die eerste, toe ek nog 'n mediese student was, was 'n abbatoirwerker met `n sogenaamde ``eselkakebeen'' waaruit etter deur verskeie gate gestroom het. Die infeksie is ná weke lange penisillieninspuitings genees, maar die pasiënt is met 'n gruwelik verminkte gesig gelaat.

'n Ander antraksongeval was 'n skaapskeerder. Inwendige absesse het sy derms aan mekaar laat kleef, op sy buikwand uitge-breek en sy lewe beëindig. Toe begryp ek waarom die Hollanders antraks ``miltvuur'' noem.

Die sesde Egiptiese plaag was moontlik antraks: Ex. 9:9 ``...en aan mense en diere swere veroorsaak wat in blare uitbreek''.

Antraks (miltsiekte), 'n hoogs besmetlike plaasdiersiekte verwek deur Bacillus anthracis, is nou seldsaam by mense in beskaafde gemeenskappe. Dit word versprei deur spore wat jare lank in grond en dierlike produkte soos vleis, velle, mis en selfs beenmeel kan oorleef. Boere, slagters en veeartse is meesal die slagoffers.

Oordrag van antraks is veral deur: Gebroke vel ná kontak met besmette produkte, die spysverteringskanaal ná inname van besmette vleis en inaseming van verpoeierde of lugbestuifde antrakskieme. Geen orgaan is van besmetting kwytgeskeld nie.

Velaantasting begin met ligte simptome, amper soos insekbyte, wat binne 'n paar dae in bose, etterende sere verander. Dié sere kan na beenweefsel versprei, byvoorbeeld die maermerrie of enkels.

Maagderminfeksie kan met 'n ``omgekrapte maag'' begin -- mislikheid, braking en/of diarree -- en met etterende sere na die lewer en ander buikorgane versprei. Ingeneemde antraksspore kan ook deur tandkaries of ontsteekte tandvleis die kake binnedring.

'n Kragdadiger stam van die antraksbasil wat paniek in teikengroepe -- selfs die algemene bevolking -- saai, tas die asemhalingsweë aan en veroorsaak akute pneumonie (longontsteking). Antraks is gelukkig nie van persoon tot persoon oordraagbaar nie en kan met verskeie antibiotika voorkom of behandel word, waaronder penisillien, doksisiklien en siprofloksasillien.

Hoewel die onlangs verspreide antraks-kieme die gevoeligste vir laasgenoemde geblyk het, sal dit in die geval van 'n plaaslike uitbreking loon om riglyne vir bevestiging en behandeling van vermoedelike gevalle van die Departement Gesondheid in te win.

Antraks is gou geneesbaar mits behandeling tydig begin word. Meld enige verdagte omstandighede (vreemde posstukke of dierlike produkte) of simptome summier by 'n dokter of staatsgesondheidswerker aan.

Eerste bioterreur 7 eeue gelede

Volgens sommige kon die straf wat die Here aan die Asjodiete uitgedeel het (I. Samuel 5:6) buielepes gewees het: ``Hy het hulle verniel en hulle getref met geswelle . . . ''

Hoewel skrikwekkend, was antraks kinderspeletjies vergeleke met die pes wat in 1347 ná aardbewings en vloede in China uitgebreek en met enorme lewensverlies na Europa versprei het.

Tydens die beleëring van Kaffa op die Krimskiereiland gooi die Tartaanse soldate die liggame van pesslagoffers oor die stads-muur met die opset om inwoners te besmet -- die eerste opgetekende geval van biologiese oorlogvoering.

Die pandemie het van die see af land in versprei so vinnig as rotte kon hardloop, hoewel die verband met rotvlooi-byte nie destyds besef is nie. Die Swart Dood bereik Italië in 1350 en eis die lewens van 'n kwart van die Europese bevolking, twee-derdes van Florence en nege-tiendes van Auvignon.

Die toestande is treffend beskryf: ``Baie stoere manne en skone dames het tuis saam met hul gesinne ontbyt geëet, maar aandete saam met hul voorsate in die hiernamaals.''

Guy de Chauliac, lyfarts van die Pous van Auvignon, het destyds reeds die verskil tussen pneumoniese pes (respiratoriese infeksie) en builepes (limfklierbesmetting) raak opgeteken. Eersgenoemde wek vinnig 'n hoë koors en asemnood. Builepes word deur groot geswolle limfkliere gekenmerk waarvan lieskliere afbreek en uitsweer.

Vure op straat en op die pouslike plein kon nie die siekte bekamp nie. Die lyke van slagoffers het té vinnig opgestapel om begrawe te word en is summier in die Rohanrivier gegooi. De Chauliac het dapper op sy pos gebly. ``Wat myself betref,'' skryf hy, ``Ek durf my nie verskoon nie, hoewel ek voortdurend in vrees leef.'' Hy het pes gekry, dog sy lewe behou. ``Mense word straatsgewys uitgewis.'' skryf Samuel Pepys oor omstandighede in Engeland en daag die noodlot uit. ``Ek het nog nooit so vrolik as in dié pestyd geleef nie.''

Long- en builepes is tans met uitsondering van endemiese streke in Indië, China en Suid-Amerika feitlik uitgewis. Pes kan nou bekamp word met bestryding van knaagdiere en rotvlooie. Menslike slagoffers moet sonder verwyl met 'n antibiotikum behandel word.

For a free directory entry go to:For your free directory entry.

No comments:

Post a Comment

The designers of this site hereby absolve themselves of any liability of the content placed on this site by users. We will attempt to moderate but any oversights will be the responsibility of the various authors.